Skip to content

Die Dryland Traverse: ’n avontuur vir elkeen

Van die 29ste Oktober tot die 1ste November is dit weer tyd vir die Dryland Traverse wat jaarliks in die Klein Karoo aangebied word. Hierdie toeganglike veldwedren lok nie net ervare atlete van regoor die hele land nie, maar skep ook die ideale wegbreeknaweek vir aktiewe gesinne en stappers met verskillende ervaringsvlakke.

Die veldwedren strek oor vier dae deur die mooiste landskappe wat die Klein Karoo kan opdis. Atlete kan hulself staal vir ‘n asemrowende wegspringpunt wat deur die Kango Grotte lei tot die uitgestrekte uitkykpunte bo op die Swartberge.

Die Dryland Traverse bied atlete meer as net ‘n pasaangedrewe wedloop, deelnemers kry die geleentheid om die omgewing in al sy glorie in te neem en te ervaar. Die Traverse fokus juis hier op die ervaring en kameraadskap tussen deelnemers. Daar is iets besonders aan die vryheid om teen jou eie pas saam met vriende die avontuur te waardeer.

Dryland Traverse spog ook met die beste waterpunte in die bedryf wat jou die geleentheid gee om te stop en jou padkos aan te vul, van piesangbrood tot gebraaide volstruis sosaties, dadelballe en baie meer. Na afloop van elke dag op die roetes wag daar heerlike etes en verskeie akkommodasie-opsies wat dit vir die deelnemers moontlik maak om gemaklik tussen avontuur en gemak te skakel. Nege smaaklike etes word oor die loop van die vier dae bedien. Genoeg om enige atleet se mond te laat water!

Ten spyte van al die luukshede, bly die Dryland Traverse steeds ‘n fisiese uitdaging. Vier dae in die berge van die Klein Karoo bly ‘n unieke prestasie en deelnemers kan hulself voorberei op ‘n welverdiende blaaskans met hul gewilde Saterdagaand geselligheid! Die hoogtepunt van die naweek is ‘n tema partytjie waar jy die kans kry om te vergeet van jou lewe in die stad, jou dans skoene af te stof en die sterrenag in te dans op die maat van DJ Brooks se treffers.

Dryland Traverse is ‘n moet vir alle atlete wat die perfekte kombinasie van natuur, kampeer en onvergeetlike ervarings waardeer. Jy hoef nie ’n elite atleet te wees nie, en jy hoef beslis nie te hardloop nie. Al wat nodig is, is om op te daag. Dryland doen die res!

Vir meer inligting of om jou plek te bespreek, besoek https://drylandtraverse.co.za

Back To Top